My Getuienis




Ek het nog altyd die begeerte om te skilder van jongs af. Van laerskool dae het ek mense en veral vroue geteken. Na skool het ek kunsklasse geneem en baie ander onderwerpe geskilder maar vroue het my gunsteling onderwerp gebly. Vir lank het ek min geskilder en ondermynings oor my kuns het my ontmoedig; ‘n uitstalling met geen verkope, selfs anonieme haat boodskappe (hatemail) ensovoorts.


Ek het as tiener my hart vir Jesus gegee. Ongelukkig soos wat ek ouer geword het, het ek afgedwaal van Sy weg en my eerste liefde verloor. Na ‘n mislukte huwelik en egskeiding, was ek op ‘n algehele laagtepunt en ver van God af. Ek het teruggedraai na God en Hy het my uitermatig gesëen. Ek het egter weer afgedwaal soos die wederstrewige volk van God. Ek was swanger met my tweede kind en het al hoe harder en duidelik die klop aan my hart gehoor. Ek het besluit om God voluit te dien want my lewe was in ‘n toestand en ek wou nie my kinders langer met so ‘n lewenswyse grootmaak nie. Die satan was jaloers oor my vaste besluit en het alles probeer my ontmoedig, en nog in dieselfde maand vanaf my besluit, terwyl ek vyf maande swanger was, is ons geroof en ek verkrag.


Ek het baie stryd gehad oor die omstandighede en die emosionele swangerskap. Tydens die uiters moeilike fase in my lewe het ek weer met pastelle vroue geteken en probeer heling vind daarin. Dit is egter net God wat heling gee. Na intense gebed en gesprek met God het Hy my so wonderbaarlik vrygemaak, soveel dat ek nie eens meer dink aan die seerkry, roof en verlede. Ek kon alles agter my plaas en my uitstrek na wat voor is. Ek kon die mense vergewe wat my seergemaak het.


Ek het ‘n lang tyd gebid en vir Liewe Jesus vertel van my groot begeerte om te wil skilder en Hom gevra om my leiding te gee om my God-gegewe talent tot Sy Eer te kan gebruik. Ek wou skilder maar dié keer wou ek dit vir Hom doen. Ek bid altyd dat Hy saam my skilder en Sy boodskap in elke skildery sit.


Ek het begin met olie (waarin ek geen kuns opleiding het) en nog steeds vroue of “die tannies” soos my dogtertjie hulle noem, geskilder. Die broosheid van die vrou is vir my mooi. Haar emosies en hoe die Skepper haar gemaak het, fyn en tog innerlik sterk. Sy is die hulpmaat vir haar man en sy is ‘n ma, om in te tree en te bid vir haar man en kinders. Sy aanbid en bemin haar Skepper met oorgawe en stel Hom eerste in haar lewe. Vroue word dikwels so seergemaak en het soveel emosies en gebroke harte en die Skepper het soveel simpatie met die vrou.


Omdat ek hierdie nuwe fase betree het, het ek gevoel om my handtekening te verander. Dit was nie meer net oor my nie. My Skepper skilder saam my, inspireer my en doen die werk aan my. Die L het n horisontale kruis geword omdat Jesus ook vir my die kruis gedra het en Hy het deel aan elke skildery. Met een skildery het ek gevoel ek kan nie eens dit afteken nie want dit was net Hy wat my inspireer. Die Here het in my gemoed gespreek “Dit is jou talent wat Ek jou gegee het, neem eienskap van dit.”


Vir my is elke skildery van ‘n vrou of Koningsdogter ‘n eie reis as gelowige, ge-inspireer deur die Woord en gewoonlik as ek die inspirasie foto sien, kom ‘n skrifgedeelte dadelik in my hart op. Ek poog met elke kunswerk om die emosie van Skrif vas te vang in beeld.






PS - hierdie is ‘n opgedateerde weergawe van my getuienis soos voorheen geplaas op facebook; omdat ek nou eers kon voel om openlik oor party aspekte te deel 28-03-2019.